Lenings Jy gaan baie meer te doen kry met lenings wanneer jy kyk na die Wiskunde waarvolgens die rente op lenings uitgewerk word (Enkelvoudige- en Saamgestelde Rente), en ook hoe om die terugbetalings op sulke lenings (Huurkoop en paaiemente) te bereken. Hier gaan ons egter nou net kyk na die verskillende maniere waarop mense geld kan leen, sonder om betrokke te raak by die berekeninge daaragter. 1)
Mikrolenings Mikrofinansiering het in die 1970’s begin toe finansiële dienste aan arm mense gebied is. Die terugbetalings op mikrolenings is baie hoër as wat Banke sou vra, maar mense wat nie by Banke kon regkom nie, kon gewoonlik hier makliker geld leen. Enige instansie wat vir mense geld leen sal dit slegs doen as hulle weet dat hulle weer daardie geld sal kan terugkry. Banke sal tipies vra vir een of ander waarborg (dis hoekom daar ‘n gesegde is dat Banke vir jou sal geld leen as jy kan bewys dat jy dit nie nodig het nie!) en Mikroleners het vroeër jare mense se ID boekies gehou, tesame met hulle Bank-kaarte, sodat hulle dadelik die geld kon gaan trek as die mense se salarisse inbetaal is. Die tydperk waaroor Mikrolenings terugbetaal word is gewoonlik korter as tradisionele lenings – gewoonlik ses maande tot ’n jaar met paaiemente, plus rente, wat weekliks eerder as maandeliks terugbetaal moet word. Hoewel mikrofinansieringsorganisasies ’n koers van tussen 30% en 70% kan vra (partymaal hierdie koers nie per jaar
nie maar per maand!) om sodoende hul risiko te dek, is hulle koste gewoonlik nog steeds laer as die bedrae wat by Banke betaal word, omdat die bedrae wat hulle uitleen soveel kleiner is. Hierdie is ‘n baie belangrike punt om van kennis te neem: by Banke sal mense byvoorbeeld ‘n bedrag van R100 000 leen, terwyl hulle by Mikroleners slegs R1 000 sal leen. Die geld wat by Mikroleners geleen word is gewoonlik vir noodgevalle, soos om darem kos te kan koop, terwyl die lenings by Banke tipies gebruik word om voertuie of huise te koop. Alhoewel die rentekoers by mikrolenings dus aansienlik hoër is as wat by Banke gevra word, is die terugbetalings kleiner, en ook vinniger verby. Dit bly egter ‘n baie hoë risiko vir die gebruiker, as gevolg van die hoë rente, en dis hoekom daar partymaal na Mikroleners verwys word as “Loan Sharks”, want hulle kan mense “gevange” hou in hierdie siklus van Leen-en-Betaal vir jare lank, omdat só ‘n persoon weer die volgende maand sal moet leen, en weer die maand daarna, en só aan – as gevolg van die hoë terugbetalingskoerse (hoeveel dit eintlik kos, in geldwaarde, om te kan leen). Mikrolening R500 30% per maand 6 maande R189,20 R1 135,20
Bedrag Rentekoers Tydperk Maandelikse Paaiement Totale bedrag terugbetaal Persentasie meer as 127% oorspronklike leningsbedrag
Banklening R500 9% per jaar 10 jaar R6,33 R759,60 52%
Mikrolenings is baie duurder as Banklenings, maar Banke leen nie sulke klein bedrae geld uit nie. Indien dit egter moontlik sou wees, sal dieselfde kliënt wat nou R189,20 betaal om R500 te kon leen by ‘n Mikrolener, ‘n bedrag van ±R1 100 by die Bank kon leen, vir dieselfde maandelikse terugbetaling! Wys jou watter verskil die rentekoers maak. 2)
Piramide-skema’s ’n Piramide skema is ’n nie-volhoubare model (dit beteken dit kan nie vir baie lank hou nie) wat die aansluiting van ander mense by ‘n netwerk of ketting behels, gewoonlik sonder enige produk of diens wat aangebied word. Mense betaal ‘n gereelde bedrag, en hierdie bedrag word dan verdeel tussen die mense hoër op in die netwerk, sodat hulle elke maand geld vir “niks” kry, en die idee is dat die mense wat laaste in die netwerk ingekom het ook weer mense onder hulle sal kry wat bereid is om elke maand geld te betaal, vir die kans dat hulle weer mense onder hulle sal kan kry. Die swak punt is dat daar geen voordeel vir enige persoon aan die einde is nie; die geld beweeg van persoon tot persoon en die stigter trek voordeel daaruit. Die mense aan die onderpunt word die meeste benadeel; hulle het aangesluit, maar kan op ‘n stadium nie meer ander mense werf nie. Die naam “piramide” kom van die feit dat een persoon gewoonlik só ‘n stelsel sal ontwikkel, en dan byvoorbeeld drie mense kry om in te skryf. Elkeen van hierdie drie mense kry nou
weer drie mense, en hulle elkeen weer drie, en só aan. Dit klink dalk nou nie te erg nie, maar as jy byvoorbeeld die persoon is wat in die twintigste ry eers inkom, dan kos dit al 1 162 261 467 mense nét om daardie ry vol te maak, en daar is alreeds op daardie stadium 1 743 392 200 mense in die piramide (let wel: amper tweeduisend miljoen! Dis aansienlik meer mense as wat in die hele land woon). Waar gaan jy, en die mense onder jou, nou nóg mense kry om weer in te skryf? Dit is ook hoekom Piramide-skema’s onwettig is, want mense betaal vir iets wat hulle dalk nie sal kan terugkry nie. Die vroegste piramideskema was ’n kettingbrief met ‘n aantal name en adresse daarop. Die ontvanger van die brief moes ’n klein bedrag geld aan die eerste persoon op die lys stuur. Dan kon hy die eerste naam op die lys verwyder, die oorblywende name opskuif en sy eie naam op die lys aanbring. Dan kon hy die brief pos en maar net duim vashou dat die proses herhaal word. Piramideskema’s word deesdae baie keer gekamoefleer as Netwerk Bemarking, of Multi-vlak Bemarking, alhoewel dit nie impliseer dat Netwerk Bemarking enigsins ook onwettig is nie. Dit gaan daaroor dat die fokus op ‘n produk moet wees wat mense kan en wil koop, en wat hulle kan gebruik. Indien dit reg bedryf word, kan Netwerk Bemarking ‘n baie goeie platform wees vir baie mense om verkope aan die gang te kry, en om ‘n goeie inkomste te verdien, want hulle weet dat daar iewers ‘n stop gaan kom aan mense wat inskryf, maar hierdie mense gaan gelukkige gebruikers wees van ‘n goeie produk. As die fokus net daarop is om
soveel mense as moontlik in te skryf, sodat hulle ‘n aansluitingsfooi moet betaal, dan moet jy versigtig wees! Sulke Netwerk Bemarkingsvergaderings (waar hulle jou nooi om te kom kyk hoe dit werk) word gewoonlik gekenmerk deur: ’n Verkoopstrefpunt (‘n baie goeie voorlegging van die skema) Min of geen inligting word deur die maatskappy verskaf nie Vae bewoorde beloftes of oneindigende inkomstepotensiaal ’n Tendens waar die vroeë beleggers vertel hoe hoog hulle inkomste is 3)
Stokvels Stokvels is amper soos klubs, waar ‘n aantal mense elke maand geld bydra tot ‘n gesamentlike fonds, en in die algemeen kry een lid van hierdie klub dan, op ‘n roterende basis van lede, ‘n kans om al die bydrae van daardie spesifieke maand vir hom/haarself te vat.. Daar is baie soorte stokvels, wat hoofsaaklik verskil op die manier wat geld uitbetaal word, bv. ‘n spesifieke stokvel sal besluit om slegs geld uit te betaal in geval van mediese noodgevalle, of ‘n ander kan weer elke maand namens die lid kruideniersware koop vir ‘n spesifieke maand.
4)
Kredietunies Die idee agter ‘n kredietunie is eintlik baie eenvoudig en briljant, maar dit moet deur iemand met baie integriteit en eerlikheid bedryf word, anders sal dit nie suksesvol wees vir almal nie.
Hoe dit werk, is dat ‘n aantal mense elke maand ‘n sekere bedrag bymekaarsit (ons sê hulle “poel” dit saam, of sit dit in ‘n “poel”). Een van hierdie mense het dan die geleentheid om die volgende maand hierdie bedrag te leen, en ook ‘n sekere tydperk terug te betaal, sonder rente. Die volgende maand sit almal weer dieselfde bedrag in, maar daar is nou ook die ekstra van die vorige maand se terugbetaling by. Iemand anders, of meer as een persoon, kan nou weer hierdie geld leen, en maandeliks terugbetaal. Op hierdie manier is daar elke maand ‘n bietjie meer geld beskikbaar vir die lede van die unie om te kan leen, en omdat dit ‘n rentevrye lening is, is dit baie beter as enige ander tipe lening. As ‘n illustrasie, gestel tien mense behoort aan die unie, en hulle sit elkeen R100 per maand in. Daar is dus R1 000 beskikbaar om te leen aan iemand in die eerste maand. Hierdie persoon onderneem om dit oor vyf maande terug te betaal – dus teen R200 per maand. Die volgende maand is daar nou weer R1 000 beskikbaar, plus die R200, dus R1 200. Nou leen twee mense elkeen R600, en onderneem om dit oor vyf maand terug te betaal, teen R120 per maand. In die volgende maand is daar nou R1 000, plus R200, plus R120 en nóg ‘n R120 beskikbaar, dus R1 440, wat weer aan iemand anders geleen kan word. Wanneer al tien die mense ‘n kans gekry het om geld te leen, en dit is weer die
eerste persoon se beurt, is daar nou baie meer geld beskikbaar. Die probleem met só ‘n stelsel is dat almal gereeld moet leen – as hulle nie leen nie groei die poel nie, maar om te leen beteken hulle moet ook terug betaal. ‘n Manier hier om is egter vir iemand wie se beurt dit is om te leen, om die geld wat geleen is te spaar, en te gebruik om elke maand terug te betaal, as hulle nie wil leen op daardie oomblik nie, of voel dat hulle nie die ekstra terugbetalings sal kan bekostig nie. Die bestuur van die stelsel, en hoe getrou elkeen sy deel elke maand betaal, sowel as die terugbetalings, vorm natuurlik die basis van die sukses van só ‘n kredietunie, en die persoon wat aan beheer staan se eerlikheid moet absoluut bo verdenking wees.