Rekeninge Die studie van rekeninge moet eintlik in drie fases gedoen word, want ‘n rekening op sigself is moeilik om te verstaan sonder hierdie agtergrond. Ons gaan dus eerstens kyk na ‘n faktuur. ‘n Faktuur is ‘n tipe rekening wat iemand (gewoonlik ‘n besigheid) vir jou gee om te sê hoeveel geld jy hulle skuld, en vir wat dit is. Hieronder is só ‘n faktuur, maar dit kan op ‘n verskeidenheid maniere opgestel word – hierdie is net ‘n voorbeeld!
‘n Faktuur (in Engels is dit ‘n “Invoice”) het gewoonlik die volgende op: die besigheid se naam, jou naam, datum, die besigheid se besonderhede, die produk waarvoor jy moet betaal en die aantal daarvan, sowel as die prys van die produk, en ‘n Verwysingsnommer wat jy moet gebruik as jy betaal
Wanneer jy kontant betaal vir iets, sê nou maar jy koop koeldrank by die kafee, dan gee hulle gewoonlik vir jou ‘n kontant-strokie. Hierdie is ook ‘n tipe rekening, maar dit dui gewoonlik aan waarvoor jy alreeds betaal het, as ‘n bewys dat jy betaal het. Ons noem hierdie tipe dokument ‘n “kwitansie”. Hiernaas is ‘n voorbeeld van só ‘n kwitansie, wat jy sou gekry het nadat jy by ‘n winkel klaar betaal het, en is tipies die strokie wat hulle by die kassier vir jou uitdruk, en saam met jou kleingeld teruggee. Jy sal opmerk dat só ‘n kwitansie ook gewoonlik ‘n baie eenvoudiger dokument is, en gewoonlik sommer in swart op wit papier gedruk is. Baie mense gooi hierdie kwitansies in die asblik, behalwe as hulle dit wil hou vir boekhou-doeleindes, wat weer gewoonlik te doen het met belasting. Besighede gee egter ook gewoonlik vir hulle kliënte ‘n Rekeningstaat, wat ‘n “geskiedenis” is van alle transaksies. Op só ‘n staat kan die kliënt dan sien watter dae en datums die transaksies gedoen is, wanneer betalings gemaak is, watter rente (indien enige) bygevoeg is, en wat die huidige stand van sake is met betrekking tot enige gelde wat nog uitstaande is. Rekeningstate het meestal te doen met gereelde kliënte by ‘n besigheid (dis hoekom jy nie ‘n staat kry as jy brood en melk by
die supermark gaan koop nie), en ook wanneer kliënte ‘n spesifieke reëling met ‘n besigheid het om op ‘n maandelikse basis te betaal, soos klere-rekeninge of voertuig-finansiering (wanneer die Bank vir jou geld geleen het om ‘n voertuig te koop, en jy betaal elke maand ‘n bedrag totdat al die geld, plus rente, terugbetaal is). Rekeningstate is ook gewoonlik baie meer kleurvol, en met baie meer inligting oor rentekoerse (indien van toepassing), kontakbesonderhede, rekeningnommer, ensovoorts. Besighede sal ook baie keer hulle state gebruik om die kliënt te probeer beïndruk met een-of-ander spesiale aanbieding, of gelukwensinge vir Kersfees, Valentynsdag of Verjaarsdae, want dit laat hulle goed lyk, asof hulle omgee, en hulle weet ook dat hulle inderdaad baie nuwe besigheid op hierdie manier kry. Wanneer jy dus ‘n rekening van ‘n besigheid af kry, dan sal dit gewoonlik óf ‘n faktuur wees wat jy nog moet betaal, of ‘n staat wat ook aandui wat jy nog moet betaal, en ‘n kwitansie is ‘n tipe rekening wat jy kry wanneer jy klaar betaal het, en state is nie hier nodig nie.